Johan Stemmet is op Springbok in Namakwaland gebore. Hy word op Kleinzee, 'n diamantdorpie, op die Weskus groot en neem klavierlesse reeds van kleins af. Op 11 jarige ouderdom sing en speel hy in sy eerste dansorkes tydens 'n oujaarsaand dans op Kleinzee en ontvang R5,00 vir sy optrede. Van toe af speel hy gereeld klavier, orrel, kitaar en basviool op al wat 'n klubdans is gedurende skoolvakansies.
Na graad 7 in die tweemanskooltjie op Kleinzee is Johan na die koshuis van die Hoërskool Jan van Riebeeck vir sy hoërskooljare. Hier neem hy musiek as vak en neem gereeld aan kunswedstryde en sangkompetisies deel.
Johan, Laurika Rauch en Randall Wicomb het op 'n stadium saam in die Hoërskool Jan van Riebeeck se skoolkoor gesing. Behalwe vir musiek het Johan rugby, krieket en tennis gespeel asook die onderskeiding behaal dat hy teen matriek al die skool se rugslag swemrekords vanaf O/13 tot O/19 ingepalm het.
| Keer terug boontoe ... |
Na skool is Johan na die universiteit van Stellenbosch waar hy hom as onderwyser bekwaam het. Tydens sy studentejare het hy gereeld tydens studentefunksies soos die jaarlikse intervarsities en karnaval of joolfunksies opgetree.
Saam met 'n studente vriend het hy transkripsie opnames by die SAUK in Kaapstad gemaak en is hy gereeld oor die radio gehoor. Sy eerste solus sewe plaatjie het ook in dié jare die lig gesien. As eenmansorkes het Johan tydens sy studentejare en gedurende naweke, as onderwyser, gereeld by funksies opgetree. Na sy eerste langspeler in 1973 het sy optredes na ander sentra regoor die land begin uitbrei.
As onderwyser en later vakhoof in Afrikaans as eerste taal aan die Hoër Seunskool Rondebosch, het Johan musiek in die klaskamer begin inbring en gedigte getoonset om die belangstelling van hoofsaaklik Engelse leerlinge te prikkel. Hy het op dié stadium sy eie musiek geskryf en saam met die bekende skrywer Hennie Aucamp begin eksperimenteer met Afrikaanse luisterliedjies en kabaret.
Die luisterliedjie beweging van laat ‘70 en ‘80 het reeds begin groei in Johannesburg en Johan is deur die SAUK genooi om voorbeelde van sy musiek tydens 'n werkswinkel te kom voordra. Dit was tydens hierdie weeklange simposium dat Johan 'n betrekking as regisseur van Afrikaanse verskeidenheid op TV aangebied is. In Julie 1980 roep hy die onderwys vaarwel toe en begin sy televisie loopbaan.
| Keer terug boontoe ... |
Verskeie programme soos "My land my lied", "Treffers van toeka tot nou", verskeie persoonlikheidsprogramme met plaaslike en internasionale kunstenaars soos Nana Mouskouri sien die lig. Hy vervaardig en bied ook programme soos "Platepraatjies", "Teletreffers" en "Debuut" aan en tree as kunstenaar op verskeie TV musiekprogramme op. Hy raak in hierdie jare ook as beoordelaar en regisseur betrokke by die ATKV se Crescendo projek om nuwe jong talent te ontgin.
Op musiekgebied sien twaalf langspelers en CD's van Johan die lig. "Bianca" word vir 'n Sarie toekenning genomineer as die beste Afrikaanse langspeler en "'n Dans met Pa" word deur luisteraars aangewys as die Afrikaanse treffer van die jaar in 1991. Hy tree as kunstenaar op in al wat 'n dorp in Suid-Afrika en Namibië is en vlieg vanaf 1990 vir hierdie doel met sy eie vliegtuig dwarsoor die land.
Vanaf 1989 stig hy en sy jarelange vriend en kollega, Johan van Rensburg, STEMMBURG TELEVISIE en tussen die twee van hulle en hulle mede regisseur, Elsa Colling, word Noot vir Noot gebore.
| Keer terug boontoe ... |
Johan het oor die jare verskeie toekennings vir sy bydrae tot Afrikaanse musiek van kulturele organisasies en dorpe landswyd ontvang. Hy het die Burgemeesterstoekenning vir sy bydrae tot die Johannesburgse eeufees ontvang asook 'n goue penning vir uitstaande jeugdiens en Ere orde van die vriend van die Voortrekkers.
Johan het tien Artes nominasies as beste regisseur, beste bydrae tot musiek en verskeidenheidsprogramme, en beste aanbieder ontvang asook die Artes vir Noot vir Noot. Hy ontvang 'n "Afrikoon" toekenning van die ATKV vir sy bydrae tot die Afrikaanse musiek deur middel van sy televisie programme asook as aanbieder, regisseur en sanger en vir die skep van geleenthede vir jong kunstenaars. Hy ontvang ook 'n "Golden Plume award" van die SABC vir sy besondere bydrae tot televisie in Suid-Afrika oor die afgelope 30 jaar.
| Keer terug boontoe ... |
Sy betrokkenheid by televisie programme plaaslik en internasionaal, het vanaf 1998 so toegeneem dat hy na 30 jaar in die vermaaklikheidswêreld sy sangloopbaan vir eers vaarwel moes toeroep. Johan is egter nou na 7 jaar terug met 'n splinternuwe "Inspirational Songs" album en die gogga het hom weer gebyt. Hy tree nou weer landswyd op. "Inspirational Songs" was na slegs drie weke in die mark, die top geestelike verkoper in Suid-Afrika.
| Keer terug boontoe ... |
Johan se twee seuns is albei betrokke in die wêreld van film en televisie. Carl was vir 'n paar jaar 'n aanbieder op MNet se KTV en Etienne op SABC se kinderprogramme. Carl is 'n aspirant rolprentvervaardiger, tans besig met sy Meesters graad in film regie aan die Universiteit van Pretoria. Etienne is tans in sy finale jaar B.Is - Multimedia. Hy komponeer ook musiek vir televisieprogramme. Johan se vrou Colleen, is die adjunk-hoof en wiskunde onderwyseres aan 'n hoërskool in Johannesburg.
| Keer terug boontoe ... |